Grondhervorming in Suid-Afrika: ‘n Ramp
Suid-Afrika se grondhervorming en herstelprogram, wat aanvanklik as ‘n belangrike stap beskou is om historiese onregte reg te stel, het in baie opsigte ‘n nasionale ramp geword. Meer as 49 miljoen hektaar grond wat voorheen aan wit boere en die staat behoort het, is aan swart boere oorgedra as deel van die land se grondhervormingsinisiatief.
Die proses van grondhervorming het formeel in 1996 begin, en byna drie dekades later sukkel baie van hierdie grondherverdelingsprojekte, of het selfs heeltemal in duie gestort. Ongeveer 90% van hierdie projekte het misluk, wat vrae laat ontstaan oor die mate waarin die miljarde rande wat deur die staat aan hierdie projekte bestee is, werklik enige voordeel vir die betrokke gemeenskappe ingehou het.
Hierdie mislukking het ook wyer kommer laat ontstaan oor nasionale voedselsekerheid, werksgeleenthede in landelike gebiede, die beheer van dieresiektes, en die toekoms van Suid-Afrika se landbou-ekonomie. Tot op hede het die regering ongeveer R60 miljard aan grondhervorming bestee, maar slegs 6,3% van die grond wat aangekoop is, is werklik herverdeel.
Verder besit die regering tans ongeveer 17 miljoen hektaar grond – ‘n gebied so groot soos Mpumalanga en KwaZulu-Natal saam. Nog meer kommerwekkend is dat die eienaarskap van 8,36 miljoen hektaar grond steeds onbekend is, wat gelykstaande is aan die grootte van Mpumalanga.
Die vraag bly steeds relevant: het die ANC-regering se beleid van grondhervorming werklik die voorheen benadeelde gemeenskappe bevoordeel, of het dit die landbou-ekonomie en voedselproduksie in gevaar gestel?
Met die R60 miljard wat die regering aan grondhervorming gemors het, kon hulle ongeveer 120,000 drie-slaapkamerhuise (teen ‘n koste van R500,000 per huis) gebou het of, as hulle egter besluit het om twee-slaapkamerhuise te bou, sou hulle 240,000 twee-slaapkamerhuise kon oprig, wat nog meer mense kon huisves, moontlik 960,000 individue indien ons aanneem elke huis huisves 4 mense. As ons dit gebruik het om skole te bou, sou hulle ook ongeveer 3,000 skole kon oprig, wat ‘n groot invloed op onderwys in Suid-Afrika sou hê. Indien die geld aangewend is vir hospitale, sou hulle na raming ongeveer 600 hospitale kon bou, wat gesondheidsorg in landelike en stedelike gebiede dramaties kon verbeter.
Met die skrikwekkende hoeveelheid mislukte projekte, moet die regering dringend sy benadering tot grondhervorming heroorweeg. Indien die gevolge van hierdie beleidsfoute nie spoedig aangespreek word nie, kan verdere skade aan Suid-Afrika se landbou-sektor en voedselketting onafwendbaar wees.