Strenger Grensbeheer in Duitsland na Dodelike Aanvalle
Duitsland het aangekondig dat strenger beheermaatreëls langs sy landsgrense met Frankryk, België, Nederland, Denemarke en Luxemburg vanaf volgende week ingestel sal word. Hierdie maatreëls, wat vir minstens ses maande van krag sal bly, is ‘n reaksie op ‘n reeks dodelike mesaanvalle wat deur migrante gepleeg is. Hierdie voorvalle het groot openbare woede ontketen en word gesien as een van die hoofredes vir ‘n verregse party se onlangse sukses in hul deelstaatverkiesings. Dis die grootste oorwinning vir ‘n verregse party sedert die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland.
Dinsdag het die opposisieparty CDU hul onderhandelings oor migrasiebeheer met die regerende “verkeerslig”-koalisie (SPD, Groen en FDP) gestaak. CDU-leier Friedrich Merz het verklaar dat die regering nie daarin geslaag het om effektiewe maatreëls rakende migrasie op te stel nie.
Sedert 2015, toe Duitsland sowat 1 miljoen vlugtelinge uit lande soos Sirië opgeneem het..
In die volgende twee weke sal die deelstaat van Brandenburg stem, en volgens meningspeilings is veiligheid die topprioriteit vir kiesers. Strenger grensbeheer is reeds in plek by die grense van Oostenryk, Switserland, Tsjeggië, en Pole, en hoop die Duitse regering dat hierdie nuwe maatreëls duisende migrante sonder geldige dokumente of as sekuriteitsrisiko’s sal keer. Oor die laaste 11 maande het die Duitsland bevestig dat 30,000 migrante by die Oostenrykse grens teruggestuur is.
Sedert 2015, toe Duitsland sowat 1 miljoen vlugtelinge uit lande soos Sirië opgeneem het, het die publiek se houding jeens immigrasie aansienlik verander. Die gevoel van ontevredenheid het verder gegroei toe die Duitse regering in 2022 besluit het om nog 1 miljoen Oekraïense vlugtelinge, wat voor Rusland se inval gevlug het, asiel te verleen. Hierdie toestroming van migrante het plaasgevind teen die agtergrond van ‘n stygende inflasiekoers en ‘n energiekrisis wat talle besighede in Duitsland gedwing het om hul deure te sluit, en wat verdere druk op die ekonomie geplaas het.
Die hervatting van deportasies en die toenemende anti-immigrasie sentiment verteenwoordig ‘n groter verskuiwing in die manier waarop Duitsland die kwessie van migrasie hanteer.