Europa: Oostenryk draai ook regs.
In die hedendaagse Europa, veral in lande soos Oostenryk, het immigrasie en die integrasie van migrante ‘n sentrale kwessie geword wat groot kommer wek. Soos ek dit ervaar, is daar ‘n fyn balans tussen die vrees vir sekuriteit en die beskerming van kulturele identiteit, teenoor die humanitêre verantwoordelikheid om mense wat aan konflik of ekonomiese onderdrukking ontsnap, ‘n veilige hawe te bied.
Die onlangse verkiesing in Oostenryk het hierdie spanning op die voorgrond geplaas. Met die oorwinning van die regse Vryheidsparty (FPO), wat `n sterk veldtog gevoer het om asielwette te verskerp en onwettige immigrasie aan bande te lê, het baie inwoners, insluitend dié met migrante-agtergrond, begin wonder oor die langtermyn gevolge hiervan. Die debat gaan nie net oor immigrasie nie, maar ook oor die rol van Islam in ‘n oorwegend Christelike samelewing.
Alhoewel partye soos die FPO en die Oostenrykse Volksparty (OVP) saam meer as 55% van die stemme verwerf het, is dit duidelik dat hulle voel dat strenger grense noodsaaklik is. Hierdie kommer is verder aangevuur deur die mislukte Islamitiese Staat-geïnspireerde terreuraanval op ‘n Taylor Swift-konsert, wat die FPO se veldtog vir strenger asielwette versterk het. Sulke voorvalle dien as bewys vir die party se standpunt dat migrante wat nie kan integreer nie, teruggestuur moet word na hul lande van herkoms.
Hierdie politieke neigings is geensins uniek aan Oostenryk nie. Ander Europese lande soos Duitsland, Nederland, Frankryk, Hongarye, Pole, Engeland en ook Oostenryk, het al hoe meer na `n konserwatiewe ideologieë beweeg wat immigrasie beperk en spesifieke maatreëls teenoor Moslems en ander migrante bevorder. Hierdie beweging weerspieël ‘n wyer Europese gevoel van onsekerheid en kommer oor hoe kulturele veranderinge, veral met betrekking tot migrante, die nasionale identiteit van hierdie lande kan beïnvloed en verander.
Die toekoms van Europa hang grootliks af van hoe lande hierdie delikate balans tussen nasionale identiteit en migrasie hanteer. As die huidige politieke neigings voortduur, kan dit lei tot toenemende sosiale spanning en verdere verdeeldheid.
Ons hou julle op hoogte.
Bronne: Reuters