Herdenk die 11de Oktober! Vir ons Boere!
Op die 11de Oktober herdenk ons die dapperheid en opoffering van die Boerevolk tydens die Boere oorlog. Dit is ‘n dag om te dink aan die mans, vroue en kinders wat hul lewens gegee het in die stryd vir vryheid en selfbeskikking. Hul moed en deursettingsvermoë het ons volk se identiteit gesmee, en dit is ons plig om hul opofferings te eer.
Die Tweede Vryheidsoorlog, beter bekend as die Tweede Anglo-Boereoorlog, was nie net ‘n militêre stryd tussen twee leërs nie; dit was ‘n stryd vir die oorlewing van ‘n hele volk – die Boerevolk. Die Boere oorlog was ‘n tyd van groot opofferings. Ons staan in diepe eerbied voor die manne en kinders wat hul lewens verloor het vir die saak waarin hulle geglo het: vryheid, selfbeskikking, en die voortbestaan van hul kultuur en taal.
Die Boere, vasbeslote om hul onafhanklikheid van die Britse Ryk te behou, het onuitspreeklike lyding verduur. Hierdie oorlog het nie net op die slagveld plaasgevind nie, maar ook in die eens stil en rustige huise van die platteland, waar kinders en vroue se lot onbeskryflik swaar geword het. Britse troepe het alles in hul mag gedoen om die Boere te knak, en een van die mees tragiese hoofstukke van die Boere oorlog is die konsentrasiekampe waar talle van ons mense, veral kinders omgekom het weens siekte, ondervoeding, en ontbering.
Die Boerevolk, wat op hul plase in vrede wou voortbestaan, het met ‘n ongelooflike vasberadenheid en moed teruggeveg teen een van die magtigste ryke van die tyd. Dit is die verhaal van gewone mans wat met buitengewone krag die wapen opgeneem het om te veg vir hul vryheid en hul gesinne. Hulle was nie soldate wat opgelei is nie, hulle was boere, jagters, manne van die grond. Maar hul liefde vir vryheid en hul families het hulle in die mees onversetlike vegters verander.
Die Boere het gesien hoe hul plase afgebrand word, hul vee geslag, en hul gesinne na kampe geneem word waar hulle sonder rede vasgehou is. Die grootste prys van hierdie oorlog was nie die verlies van grond of besittings nie – dit was die lewens van duisende kinders wat nooit hul volle potensiaal bereik het nie. Die klein Boerekindertjies, wat net onskuldig wou speel, het nie die kans gekry om groot te word nie, en hul verlies is ‘n hartseer wat ons as nasie steeds dra.
Elke naam wat in die konsentrasiekampe gesterf is, is nie net ‘n statistiek in ‘n geskiedenisboek nie – dis die naam van ‘n kind wat ons toekoms sou bou, van ‘n vrou wat haar gesin moes beskerm, van ‘n man wat in die veld vir sy land geveg het. Dit is ‘n herinnering dat vryheid nooit sonder ‘n prys kom nie, en dat ons Boere-voorouers bereid was om die hoogste prys te betaal om ons vandag die reg te gee om Afrikaans te praat, om ons kultuur vry uit te leef, en om in ‘n land te bly wat ons eie is al lyk dit soms anders vandag.
As ons terugkyk na die helde van die Tweede Vryheidsoorlog, moet ons hul opofferings nooit vergeet nie. Hulle het nie net geveg vir hul eie lewens nie, maar vir elke geslag wat daarna sou kom. Ons leef vandag in die lig van die vlam wat hulle aangesteek het – ‘n vlam van hoop, vryheid en onbreekbare trots.
Ongeveer 7,000 tot 9,000 Boerevegters het gesneuwel tydens die Boere oorlog. Dit sluit diegene in wat direk in gevegte dood is, asook dié wat aan siektes en uitputting gesterf het.
Die grootste tragedie van die oorlog was egter die sterftes in die konsentrasiekampe. Ongeveer 28,000 Boerevroue en kinders het gesterf in die Britse konsentrasiekampe, hoofsaaklik as gevolg van siektes soos masels, disenterie en ondervoeding. Hierdie sterftes het die hartseer en trauma van die Boere oorlog vir die Boerevolk vergroot, en is een van die mees onthoude aspekte van die oorlog se geskiedenis.
Wanneer ons nadink oor die trauma wat hulle deurgemaak het—van die gevegte op die slagveld tot die ontberings in die konsentrasiekampe—moet ons besef dat hul stryd nie verniet was nie. Hulle het bakens vir ons vryheid opgerig, en ons moet hierdie nalatenskap in ere hou.
Laat ons nooit vergeet wat hulle vir ons gedoen het nie, en voortgaan om te bou op die waardes waarvoor hulle geveg het:
Vryheid, Selfrespek en die voortbestaan van ons Taal en Kultuur.
Laat ons hulle nooit vergeet nie!
Bronne: Vierkluermedia , Boereoorlog meseum