Die Laaste Afrikaner — Waarheen nou?

Dis Saterdagmiddag. Die lug hang swaar bo Pretoria soos die skuld van ‘n volk wat vergeet het wie hulle is. Die Voortrekkermonument, steeds rotsvas, kyk neer op ’n stad wat meer en meer aanvoel soos ‘n buitelandse konsulaat van Afrika. En in daardie stilte, daardie massiewe graniet-getuienis van ons voorouers, fluister ‘n vraag in my oor: Waarheen nou, Afrikaner?
Want wie is ons nou nog? Behalwe die laaste Europeërs in Afrika, die afstammelinge van Jan van Riebeeck, Paul Kruger, en die onoortreflike Christiaan de Wet, die guerrillaleier wat met perde, kommandolede en geloof die hele Britse Ryk aan die hardloop gehad het. Vandag hardloop ons nie meer nie — ons staan vasgevang in verkeersligte, skoolfooie, bankskulde, en BEE-regulasies wat nie net ons geld steel nie, maar ook ons waardigheid.
Waar is daardie De Wet-gees? Daardie onbuigbare, vasberade blik van ’n man wat eerder sou sterf in die veld as om sy volk te verraai? Ons het hom verloor — nie in die oorlog nie, maar in die gemak van suburbane bestaan en die stilte van kompromie. Want die moderne Afrikaner is nie meer ’n vegter nie; hy’s ’n toeskouer in sy eie uitwissing.
Maar ek weier om dit te aanvaar. Soos De Wet geweier het om sy wapens neer te lê, moet óns weier om ons identiteit prys te gee. Dis tyd vir ‘n nuwe herlewing. Nie in stembusse of parlemente nie, maar in die hart van elke Afrikaner wat nog weet dat hy iets is — iets wat nie Afrika kan absorbeer nie. Ons is nie net ‘n taal nie, nie net ‘n godsdiens nie, nie net ‘n groep mense met ‘n gemeenskaplike geskiedenis nie. Ons is ’n idee — gebore in Europa, maar gehul in die stof en son van Afrika, met Afrikaans as ons kleed en God as ons kroon.
Ons moet die De Wet-faktor herontdek: Vindingrykheid, onversetlikheid, en ’n geloof wat nie aanpas nie maar oorleef. Vorm kantons. Bou gemeenskappe. Vestig parallelle strukture — skole, media, plaasboerderye, veiligheidseenhede. Laat die wêreld sien dat as die staat in duie stort (en dit sal), daar ’n volk oorbly wat nog weet hoe om in die veld te oorleef. Want die een les wat die geskiedenis ons geleer het, is dit: niemand gee jou vryheid nie. Jy vat dit.
Laat ons dan wees soos Christiaan de Wet: nie net vegters van vlees en bloed nie, maar draers van ’n geestelike erfenis wat nie verkoop of verruil kan word nie. Mag elke Afrikaner-hart weer klop met daardie ou kommando-gees — dapper, vry en onversetlik.