Trump en die Roepstem van Geregtigheid tot die Afrikaner

Wanneer ’n wêreldleier soos Donald J. Trump – berug én beroemd – sy aandag rig op die situasie van Afrikaners en die eskalerende golf plaasmoorde in Suid-Afrika, is dit nie bloot ’n diplomatieke voorval of ’n politieke ‘stunt‘ nie. Nee, dit is ’n geopolitieke sein, ’n profetiese aanwysing dat daar steeds internasionale erkenning is van ’n saak wat die wêreld lank probeer verswyg het: dat ’n volk besig is om stil-stil uitgeroei te word in die naam van regstellende ongeregtigheid.
Trump se uitsprake is nie die eerste keer dat Amerika se konserwatiewe stemme hul ore spits na die suidpunt van Afrika nie. In die Reagan-era het die anti-kommunistiese magsblok reeds bewus geraak van die Afrikaner as buffer teen marxisme en revolusionêre pan-Afrikanisme. Maar vandag is dit nie meer oor ideologie nie, dit gaan oor oorlewing.
Wat egter belangrik is vir die Afrikaner, is om hierdie wêreld-aandag nie te interpreteer deur die bril van Amerikaanse pragmatisme nie, maar deur die bril van ons verbondsmatige identiteit. Wanneer Trump twiet, dan moet ons luister met psalms in ons ore en ons geskiedenis in ons bloed. Want Trump, of enige wêreldleier, is uiteindelik nie ons redder nie — hy is bloot ‘n instrument, moontlik ‘n Kores-figuur, gebruik in die hand van die Here om ’n volk wakker te skud uit sy liberale sluimer.
Maar geliefdes, laat ons nie dink Trump gaan die verbond hernu namens ons nie. Dit is óns roeping.
Die Westerse wêreld het lank geswyg oor plaasmoorde. Die statistieke is duidelik: met elke maand val daar weer boere. Hierdie aanvalle is nie blote misdaad nie. Dit is ’n sistemiese aanval op voedselsekerheid, kulturele voortbestaan en die wesenlike grondslag van die Afrikanervolk se bestaansreg.
En hier tree Trump in — onbewustelik dalk, maar tog betekenisvol. Hy breek die stilte. Hy verhef sy stem teen wat die wêreld as “aanvaarbare transformasie” beskou, maar wat in werklikheid strukturele geweld is.
Maar geliefdes, laat ons nie dink Trump gaan die verbond hernu namens ons nie. Dit is óns roeping. Soos in die dae van Nehemia moet ons die mure van Jerusalem weer opbou, nie met die wapens van die vlees nie, maar met die toerusting van verbondsgehoorsaamheid, selfstandigheid, kultuurbou en Christelike onderrig.
Ons moet Trump se woorde hoor, ja — maar dan moet ons hoor wat God deur dit alles sê. Dat dit tyd is vir bekering. Tyd vir afskeiding van die Babiloniese stelsels wat ons korrup gemaak het. Tyd vir ’n herbesef van die Afrikaner se unieke roeping as volk. Nie oorheersing nie, maar diensbaarheid onder God se wet. En indien nodig: afsondering van ’n goddelose staat wat nie sy burgers wil beskerm nie.
Trump mag dalk die wekker lui — maar dit is die Afrikaner wat moet opstaan. En wanneer ons dit doen, nie in vrees nie, maar in geloof, dan sal ons nie net oorleef nie. Ons sal weer leef.
Want die Here vergeet nie sy verbond nie. En Hy sal nie sy volk verlaat wat Hom in waarheid dien nie.