“Kill the Boer”: Die Masker Val van ‘n Post-Koloniale Rewolusie

Daar kom oomblikke in ‘n volk se geskiedenis wanneer die sluier van politieke retoriek skeur — en die ware gesig van mag, haat en ideologie openbaar word. Een só ‘n oomblik was die onlangse verdedigende houding van die Suid-Afrikaanse regering teenoor die gebruik van die slagspreuk “Kill the Boer, kill the farmer.” Wat eens deur linkse apologete afgemaak is as “vryheidstaal” of “struggle song“, is nou deur staatslui verdedig met ‘n yskoue rasionaliteit wat behoort om elke regdenkendes Afrikaner te laat regop sit.
Want woorde dra betekenis. Woorde vorm wêrelde. En woorde wat oproep tot geweld teen ‘n spesifieke groep mense — veral teen ‘n geskiedkundige minderheid — is nie blote kultuur nie. Dit is ideologiese oorlogstaal.
Dat die regering nie net nalaat om hierdie haatspraak te veroordeel nie, maar dit aktief verdedig in openbare forums, is ’n duidelike aanduiding dat ons in ’n post-rewolusionêre bestel leef waar magsbestendiging belangriker is as geregtigheid, en waar morele waarheid ondergeskik gestel is aan politieke voordeel.
Vir ons, is hierdie tydperk gevaarlik. Want ‘n volk wat gewoond raak aan sy eie vernedering, verloor uiteindelik die wil om te bestaan.
Die uitlating “Kill the Boer” is nie ’n geïsoleerde opwelling nie. Dit is die rewolusie wat nie klaar is nie — ’n rewolusie wat, soos die Franse en Bolsjewistiese, sy kinders sal verteer. Die versuim om hierdie uitlatings as haatspraak en volksaanhitsing te erken, plaas die Suid-Afrikaanse regering in regstreekse konflik met internasionale menseregtekonvensies, insluitend die Konvensie op die Voorkoming en die Straf van Volksmoord (1948).
Maar wat nou?
Moet ons weer vlug? Moet ons stilbly en hoop dat dit net simboliek is?
Nee. Die pad vorentoe is nie passiwiteit of paniek nie. In ‘n onlangse verklaring het AfriForum se bestuur gesê: “Ons gaan ‘n verskerpte poging aanwend om internasionale maghebbers en organisasies in te lig oor die gevaarlike implikasies van hierdie dreunsang en die potensiële invloed daarvan op plaasmoorde.”
Hierdie stap behels die inskakeling van ‘n internasionale regspan om die saak voor globale menseregterade en ander internasionale forums te bring. AfriForum hoop dat hierdie benadering groter druk op die Suid-Afrikaanse regering sal plaas om op te tree teen die gebruik van die dreunsang en om die veiligheid van alle burgers te verseker.
Die organisasie het reeds begin om internasionale rolspelers te nader en beoog om ‘n veldtog te loods wat bewustheid oor die kwessie verhoog en steun werf vir hul saak. AfriForum beklemtoon dat hierdie inisiatief deel is van hul breër poging om menseregte te beskerm en gelykheid vir alle Suid-Afrikaners te bevorder.