6 April – Stigtingsdag van ‘n Volk

Vierkleur Media
Op 6 April 1652 het Jan van Riebeeck aan die suidpunt van Afrika aan wal gestap – ‘n daad wat vir eeue daarna die verloop van ‘n vasteland, en die vorming van ‘n volk, sou bepaal. Wat vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie bloot ‘n verversingspos was, het in die bloed, sweet en gebede van pioniers ontaard in die geboorte van ‘n Westerse beskawing in Afrika.
Vir die Afrikaner of Boer, die kind van die pionier en die grensboer, was 6 April veel meer as net ‘n datum op ‘n kalender. Dit was Stigtingsdag – ‘n dag van erkening dat daar ‘n roeping lê in die aarde, dat daar ‘n taal, ‘n geloof en ‘n kultuur geplant is aan die voet van Tafelberg wat sou uitspruit tot in die uithoeke van die kontinent.
In die voormalige Republiek van Suid-Afrika is hierdie dag lank as ‘n openbare vakansiedag gevier. Met die opkoms van republikeinse nasionalisme in die 20ste eeu, het Stigtingsdag ‘n simboliese herwaardering beleef – nie net as ‘n herinnering aan die landing van Van Riebeeck nie, maar as ‘n monument vir volkseie onafhanklikheid.
Die drang na vryheid, wat op 6 April 1652 begin het, het uitgeloop op gebeure soos die Groot Trek, die stigting van die Boererepublieke, die Anglo-Boereoorloë en uiteindelik die onafhanklikheid van 1961. Hierdie dag was nie die begin van kolonialisme nie, soos sommige dit graag wil herdefinieer nie – dit was die begin van vestiging, die ontstaan van ‘n Europese kultuurgemeenskap in Afrika, wat later sy eie identiteit en roeping sou vind.
Die Herinnering Vandag
Hoewel Stigtingsdag nie meer amptelik gevier word nie, bly dit vir baie Afrikaners ‘n dag van stil besinning. In ‘n tyd waar geskiedenis herskryf word en standbeelde omgekeer word, hou 6 April stand as ‘n ankerpunt, ‘n herinnering dat ons voorsate met visie en opoffering ‘n erfenis gebou het.
Elke jaar op 6 April roep kultuurorganisasies hul mense op om weer vas te staan in wie en wat ons is. Nie uit haat of arrogansie nie, maar uit die diep besef dat ‘n volk sonder wortels nie sal oorleef nie.
Hiermee wens ons almal ‘n Gelukkige Stigtingsdag toe!
Mag jy vandag stilstaan, dankbaar wees en jou kinders leer waar hulle vandaan kom.
Mag ons wortels diep bly en ons visie helder – tot eer van ons voorvaders en tot behoud van ons nageslag.
Geseënde Stigtingsdag.