Joost Strydom op internasionale mediaplatform

Deur Vierkleur Media
In ʼn tyd van verdraaide geskiedenis en groeiende wêreldwye bekommernis, het Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, die internasionale mediaplatform NTD Features besoek – nie met ʼn versoek om deernis nie, maar met ʼn oproep tot waarheid en begrip. Hy het namens sy gemeenskap gepraat – ʼn gemeenskap wat te midde van plaasmoorde, politieke marginalisering en grondonduidelikheid steeds vashou aan ʼn toekoms op eie grond, volgens eie arbeid en identiteit.
Strydom het dit duidelik gestel: Afrikaners is nie vlugtelinge nie, en wil dit ook nie wees nie. “Ons soek nie uitkoms in ander lande nie – ons bou aan ‘n toekoms hier, op Suid-Afrikaanse bodem,” het hy gesê. Sy boodskap aan Amerika was nie ‘n versoek om toevlug nie, maar eerder ‘n uitnodiging tot samewerking om ʼn Suid-Afrika te herstel waarin elke volk sy eie toekoms in vryheid kan uitleef.
Die Onteieningswet, wat grondonteiening sonder vergoeding moontlik maak, is die jongste simbool van ʼn staatsbestel wat eerder op herverdeling as geregtigheid fokus. Internasionale reaksie was vinnig en ferm: President Donald Trump het alle hulp aan Suid-Afrika bevries, en vlugtelingstatus vir Afrikaners aangekondig. Staatssekretaris Marco Rubio het die G20-beraad in Johannesburg geboikot, en Suid-Afrika se ambassadeur uit die VSA verban – ‘n duidelike teken van groeiende diplomatieke spanning.
Teen hierdie agtergrond bied Joost Strydom nie ‘n oproep tot stryd nie, maar tot visie. ‘n Visionêre voorstel van ‘n Suid-Afrika waar verskillende gemeenskappe hul eie identiteit kan uitleef, sonder onderdrukking of vrees – ʼn land van vreedsame selfstandigheid eerder as politieke oorheersing.