TLU SA verwerp Eskom se voorgestelde 44% verhoging
TLU SA het Vrydag sy sterkste teenkanting uitgespreek teen Eskom se plan om ’n omstrede 44% verhoging in elektrisiteitstariewe in te stel, wat vanaf April 2025 van krag kan word. Dié stap, sê TLU SA, is ‘n onregverdige las wat verbruikers nie behoort te dra vir die gevolg van Eskom se jarelange wanbestuur en oneffektiewe bedryf nie.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het nie doekies omgedraai nie: “Dit is hoogtyd dat Eskom sy huis in orde kry, eerder as om te verwag dat verbruikers vir hul mislukkings betaal.” Volgens hom moet die kragvoorsiener dringend sy strukture hersien, veral met betrekking tot die doeltreffendheid van personeel en kaderontplooiing wat steeds aan die orde van die dag is. Die Eskom verhoging gaan verbruikers swaar tref.
Die kern van TLU SA se argument is Eskom se jarelange probleme met bestuursoneffektiwiteit, grootliks toe te skryf aan die politieke kaderontplooiing wat staatsinstellings, soos Eskom, verswak het. Hierdie ondoeltreffende bestuur word nou op verbruikers afgedwing deur tariefverhogings wat die land eenvoudig nie kan bekostig nie.
Suid-Afrika se ekonomie toon tans swak hersteltekens, grootliks danksy die privaatsektor se pogings om beurtkrag te vermy en die daling in brandstofpryse. ‘n Enorme Eskom verhoging in elektrisiteitstariewe sal egter hierdie groei vinnig knou, wat besighede en landboubedrywighede, wat reeds wankel weens infrastruktuuruitdagings en droogtes, verder onder druk gaan plaas.
Die landbousektor, wat volgens Van Zyl reeds ernstig gebuk gaan onder natuurlike en infrastruktuurprobleme, sal bykans onmoontlik volhoubaar bly met ‘n verhoging van hierdie aard. Hy het gewaarsku dat volhoubare voedselproduksie in gevaar is en dat voedselpryse astronomies kan styg, wat lae-inkomstegroepe die hardste sal tref.
Daar is ook groeiende kommer oor beweerde korrupsie in die dieselmark, met gerugte dat ‘n bedrag per liter ingevoerde diesel na die ANC gaan. Van Zyl het beklemtoon dat TLU SA reeds versoeke gerig het aan die ministers van Energie en Landbou om hierdie kwessie aan te spreek, maar tot dusver is daar geen bevredigende reaksie ontvang nie. Hierdie Eskom verhoging sal sulke kwessies vererger.
“Ons eis dat Eskom en die regering hierdie kwessies openlik hanteer en onder eed verklaar dat geen politieke party baat by dieselinvoere nie,” het Van Zyl benadruk. Hy het ook gewaarsku dat indien Eskom voortgaan met hierdie tariefverhoging, meer verbruikers na alternatiewe energiebronne sal kyk, wat Eskom verder sal verlam.
Eskom moet sy eie wanbestuur aanspreek. Die verbruiker kan nie langer betaal vir hulle mislukkings en verhogings nie.