Boere in Duitsland woedend
Met die Boere in Duitsland het die spanning oor die Duitse begrotingskrisis Donderdag aansienlik geëskaleer toe hulle teen belastingverhogings betoog het. Hulle het die “Greens” se Minister van Ekonomie, Robert Habeck, belet om van ‘n veerboot af te klim toe dit in Noord-Duitsland aanland. Die skare van meer as 100 mense het Habeck geterg in ‘n toneel wat deur plaaslike polisie as “baie, baie gespanne” beskryf is.
Die voorval beklemtoon toenemende ontevredenheid en politieke spanning oor onlangse besnoeiings wat die leiers van die drieparty-koalisie voorgestel het te midde van die land se onstuimige begrotingskrisis. Die regering het besluit om die Duitse boere te teiken, en die federale regering het verlede week aangekondig dat hulle beoog om jaarliks sowat 900 miljoen euro te bespaar op subsidies wat vir die boere bedoel was.
As deel van hul begrotingsplanne het leiers van die regerende koalisie voorgestel om sleutelbelastingvoorregte vir boere te verwyder, insluitend ‘n belastingvrystelling op dieselbrandstof. Hierdie planne het groot woede ontketen en tot grootskaalse protesaksies gelei.
Vroeër het tienduisende Duitse boere en hul trekkers in sentraal Berlyn saamgekom om teen die regering se planne te betoog.
“JULLE POLITIEK IS ‘N VERKLARING VAN OORLOG TEEN BOERE” en “TE VEEL IS TE VEEL! DIT IS NOU GENOEG!”, het van die boere gewaarsku.
Die regering beoog nog steeds om die nuwe begroting deur die laer huis van die Duitse parlement te voer. Dit sal nou ‘n interessante stryd tussen die boere en die regering wees. Ons sal die vordering dophou en julle op hoogte hou van gebeure.